Vernuwe jou toekoms

Essensiële olies en hul genesende eienskappe is nie ‘n nuwe konsep nie; dit bestaan al duisende jare. In die ou dae is hierdie tipe olies as medisyne, velsorgmiddels en parfuum gebruik. Dit is opgeskryf dat Cleopatra daagliks geurige olies, klei van die aarde, melk en heuning op haar vel gebruik het en dat sy jeugdig en stralend gelyk het.

Dit moet sekerlik bevestig dat essensiële olies kragtig is in die stryd teen ons verouderende velle. Wanneer jy ‘n serum gebruik wat van die regte draerolie en essensiële olies geformuleer is, kan dit help om die vel te beskerm teen die daaglikse skade van droë lug, sowel as om jou vel te voed en genees.

Voordat jy jou vel met essensiële olies begin behandel, is dit belangrik om te weet dat dit ewe belangrik is wat jy in jou liggaam sit en hoe jy daagliks jou vel skoonmaak. Om genoeg water per dag te drink, vars produkte te eet en daaglikse oefeninge te doen, speel ‘n groot rol in die toestand van jou vel.

Daar is bewys dat essensiële olie-mengsels droë vel hidreer, dit help om aknee op te klaar, ontsteking gesond te maak en in ‘n mate plooie glad te maak. Dit is ook kragtig om littekens en rekmerke te verminder.

Hier is ‘n paar wenke om jou vel optimaal te versorg:

  • Was jou gesig slegs een keer per dag in die aand en verwyder alle grimering. Wend jou serum teen veroudering aan, sowel as jou nagroom.
  • Spoel jou gesig soggens met warm water, dan koue water en gebruik ‘n natuurlike saamtrekmiddel (toner).
  • Bevogtig die vel twee keer per dag met ‘n natuurlike serum of room, in die aand na skoonmaak en in die oggend.
  • Doen afskilfering twee tot drie keer per week met ‘n natuurlike produk om alle dooie velselle te verwyder en om die gesig stralend te laat..
  • Maak een keer per week tyd om die vel te detoks deur ‘n natuurlike produk soos Bentonite-klei te gebruik.
  • Drink baie water en voed jou liggaam goed met groente, vrugte, neute, sade, goeie olies en vis.

Maak hierdie maklike serum tuis

  • 10 ml drupper- of rolbalbottel
  • 9 ml draerolie soos jojoba, druiwepitolie of olyfolie
  • 5 druppels wierookolie (Frankincense Boswellia Serrata) essensiële olie
  • 3 druppels mirre (Myrrh Commiphora Wildii) essensiële olie
  • 2 druppels sederhout (Cedarwood Juniperus Virginiana) essensiële olie
  • 2 druppels roosmalva (Geranium Pelargonium Graveolens) essensiële olie

Masseer twee tot drie keer ‘n dag in die vel in vir ‘n week, daarna slegs soggens en saans.

Follow by Email
Instagram
%d bloggers like this: