Seks tydens swangerskap – hoekom voel mens bang?

Kan swanger seks jou baba benadeel of seermaak? Is dit normaal om glad nie te wil seks hê terwyl jy swanger is nie? Is dit normaal om baie meer te wil seks hê terwyl jy swanger is?   

Vrouwees bespreek dié maand die vrae, onsekerhede en risiko’s betrokke by seks tydens swangerskap. Seksuele intimiteit is immers ‘n belangrike deel van ‘n gesonde, gebalanseerde verhouding.

Is seks tydens swangerskap gevaarlik vir jou baba?

Baie vroue wat met hulle eersteling swanger is, is onseker oor of seks tydens swangerskap skadelik kan wees vir ’n ongebore baba.  Jy kan gelukkig dadelik ontspan. Jou baba word deur vrugwater omring en deur jou baarmoeder en ’n laag spiere beskerm.

Die eerste trimester

Dié trimester is gewoonlik die moeilikste wanneer dit by jou seksdrang kom. Dis doodnormaal as seks die laaste ding is waaraan jy dink terwyl jy oggendnaarheid en moegheid moet hanteer. Jou borste is boonop sensitief.

Jou liggaam beleef fisiek baie veranderinge en baie vroue voel asof hulle seks minder geniet. Ander mag weer voel asof hulle seks baie meer geniet, juis omdat party liggaamsdele meer sensitief is as ander.  

Dis baie belangrik dat jy en die man in jou lewe openhartig hieroor gesels. As jy miskien minder gemaklik is met dinge wat julle gewoonlik doen, sê vir hom. En ook andersom.

Die tweede trimester

Jou lyf ervaar ’n geweldige toename in hormone gedurende die tweede trimester.

Oggendnaarheid is miskien nou iets van die verlede en jy mag meer energiek voel. Die bloedvloei na jou bekkenarea verhoog en daarom kan dit meer sensitief wees. Dis dus doodnormaal om te voel asof jou seksdrang verhoog gedurende dié trimester.

Die derde trimester

“Jou boepie word nou al groter en jy sal agterkom dat jy nie so beweeglik is soos wat jy altyd was nie. Die baba in jou baarmoeder plaas spanning op jou hele liggaam, dus is dit normaal om te voel asof jou seksdrang gedurende hierdie trimester afneem.

Alhoewel sommige gesondheidswerkers in die verlede gemeen het dat seks in dié trimester die oorsaak kan wees van ’n vroeë geboorte, weet ons vandag dat seks waarskynlik nie die geboorteproses aanwakker nie. Tensy daar natuurlik swangerskapkomplikasies is. As jy onseker is, praat openlik met jou dokter oor wat veilig is en wat nie.

Deur Caria van der Merwe

Wil jy die res van ons tydskrif lees? Klik hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Follow by Email
Instagram
%d bloggers like this:
Enable Notifications    Ok No thanks