Raak rustig

Nicolette Harding (49) het na jare se gejaagde lewe die kans gekry om dinge bietjie rustiger te vat. Sy vertel vir Vrouwees hoekom familietyd so belangrik is en hoekom jy bietjie rustiger moet raak.

Lewe is ’n gejaag

Nicolette is al vir 30 jaar met haar man, Edgar Harding, getroud en hulle het drie seuns. Sy werk al vir die afgelope 10 jaar by haar swaer wat ’n algemene chirurg is by Gariep MediClinic.

Nicolette vertel haar lewe was ’n gejaag tussen ’n voldag werk en drie seuns. “Ek was verskriklik besig toe my drie seuns op skool was. Dit was voldag werk, daaglikse skoolaktiwiteite en ’n huishouding aan die gang hou. Ek het nooit gerus nie. Hulle was ’n handvol om groot te maak en ek het elke middag op en af gery met hulle.

“Ek het amper skuldig gevoel om rustig te wees toe die seuns in die huis was, want dit was vir my verskriklik belangrik om vir hulle ’n goeie ma te wees en hulle te versorg.”

Lewe word drasties rustiger

“Ek werk nou halfdag. My lewe het drasties rustiger geword vandat die drie seuns amper in dieselfde jaar die huis verlaat het. My oudste seun, Jarred (28), woon nou in Amerika en is in Februarie vanjaar met ’n Amerikaanse meisie getroud. My tweede oudste, Joshua (25), werk in China en die jongste, Jaden (21), swot by Noordwes-universiteit in Potchefstroom.

“Dit is nou baie makliker en ek is nou oor die algemeen ’n baie rustiger mens. Ek is baie lief vir hekel en geniet sekere TV-programme. Wanneer ek ’n stil tydjie soek, gaan sit ek op my bed in my kamer voor die TV of met my hekelwerk.

Alles is lekker ingerig in my kamer soos ek daarvan hou. In hierdie stadium is my hele huis amper my quiet place sonder die seuns en ek is soms mal oor die stilte, alhoewel ek my seuns se stemme en manewales verskriklik mis.”

Familietyd is uiters belangrik

Vir Nicolette is familietyd baie belangrik, veral in vandag se tye waar alles voel of dit ’n gejaag is. “As ek kon kies, was ek net ’n huisvrou en ma en by my huis. Ek het twee sussies, Berlice en Monya en ons is baie na aan mekaar, ons spandeer baie graag tyd saam as ’n familie.”

“Ek dink mens moet tog tyd maak om saam te wees, veral families. Ek dink nie mense kan meer sit en net wees nie. Daar moet definitief tyd gemaak word om die wêreld en besige lewe eenkant toe te skuif en tyd saam as gesin  deur te bring. Dit is hoe mens sterk bande met jou kinders bou. Ons het spesifieke tye met die seuns gereël om saam iets as gesin te doen. Ons moes vooraf reël, want tieners het mos elk hulle eie programme, maar ons het fondue-aande en movie-aande gehou. Almal het dit altyd vreeslik geniet. Ons het so ’n besonderse sterk band met ons seuns opgebou.”

Wanneer die wêreld te veel raak

As alles te veel raak, herlaai sy haar batterye deur alleentyd. “As ek onder druk is, is ek glad nie goeie geselskap nie en kan glad nie my gevoelens wegsteek nie. Almal kan die gevoelens op my gesig sien. Ek sal dan alleen in my kamer gaan koffie drink of net met my katte sit. Ek het die Here om aan vas te hou en my susters om mee te praat. Verhoudings is belangrik.” Tania Coetzee

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Follow by Email
Instagram
%d bloggers like this:
Enable Notifications    Ok No thanks