Oomblikke wat jou asem wegslaan

Prioriteite

Mens se prioriteite verander beslis met ouderdom. Ek was nog nooit ‘n ambisieuse mens nie, maar het nog altyd probeer om my beste te lewer in enige verantwoordelikheid of geleentheid. Vandat ek kon onthou wou ek net gelukkig getroud wees. My hedendaagse prioriteit bestaan egter om die beste ma te wees wat ek kan en om die potensiaal van my kinders optimaal te ontgin. Nog meer as ooit is dit ook vir my nommer een prioriteit om te soek na Waarheid. Om meer te leer van my Skepper en Sy doel met my/ons en die Groter Prentjie.

Talente

Ek is beslis kreatief gebore. Ek dink ons almal kry daai talent. Ons is immers na Sy beeld geskep en met DIE ASEM VAN SY MOND het hy die skepping tot stand gebring…laat dit bietjie insink… Verder dink ek dat Hy my wel die gawe gegee het om mense te ontmoet en te verstaan waar hul is.

Begeertes

Ek het ‘n groot begeerte na reis. Ek hou van verskillende kulture, musiek, klanke, kos en idees. Ek het wel ook die sterkste begeerte om iewers te hoort, om gehoor te word en gekoester te word.

Dankie sê

Geen Blog in die wêreld gaan ooit genoeg plek hê vir my dankbaarheid nie. Jare terug het ‘n vriendin van ‘n bybelstudiegroep vir ons ‘n notaboek oorhandig met die opdrag om elke dag iets neer te skryf waarvoor jy dankbaar is. Ek het nie gedink dit is moontlik om selfs een blad te skryf nie. Vandag, baie jare later, sal ek die sagterware van hierdie program laat inkonk. Wysheid en dankbaarheid kom met ouderdom. Kom ek begin met dankie vir my gesondheid, dankie vir die pragtige intelligente oë van my kinders, dankie vir die wonderwerk om sade te kan sien ontkiem. Daar is seker niks mooier om die potensiaal van groei waar te neem nie! Dankie vir goeie ouers, biologies, sowel as aanneemouers, wat dikwels groter rolle in mentorskap speel as jou eie ouers. Dankie vir lesse, die wat ons knak en die wat ons laat uitstyg bo berge. Dankie vir beloftes soos ‘ek gee jou fonteine in die woestyn’.

Ek het lief…

Vir ‘n vlietende oomblik wil ek jou vertel dat ek lief is vir berge, see, diere, fotografie, my kinders, al die vanselfsprekende dinge wat ons so maklik kan noem. Eerder wil ek jou vertel dat ek lief is vir oomblikke wat ons asems wegneem. Genade-oomblikke in supermarkte waar iemand ‘n oupa of ouma help. Vreemdelinge wat soos engele optree. ‘n Doodgerypte plant wat weer uitloop. Lewe…

Dan liewe mens, besef ek dat ek lief is vir mense, dit wat hul maak ‘tick’, dit wat hul opgewonde maak, hartseer maak, hul mens maak. Ek hou van mense se stories en hul fyngeweefde tapyt van herinneringe. Wees…en wees dankbaar!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Follow by Email
Instagram
%d bloggers like this:
Enable Notifications    Ok No thanks