My keuses van prioriteite, talente en begeertes

Prioriteite. Dis ‘n groot woord wat min mense regtig verstaan. Prioriteite in my oë is wie jy as mens is en wat vir jou belangrik is in die lewe. Vir my is dit my man en kinders en my werk. Ja, julle het reg gelees, my werk.

Ek gee daagliks meer as 200% aan my prioriteite want dis hoe ek groot gemaak is en wie ek as mens is.Wat my baie uitput, ek gaan nie jok nie. Toe ek jonger was het ek nie regtig besef hoe belangrik prioriteite is in ‘n mens se lewe nie, maar die lewe is hard en jy leer gou wat dit is.

Dankbaar vir my man

Ek is ‘n gelukkige vrou met ‘n wonderlike man. Nee, ek sê dit nie net vir hierdie artikel sodat dit mooi moet klink nie. As mens jonger is besef jy nie altyd hoe belangrik jou man die pa van jou kinders is nie. Ek het daar in daai hospitaal vinnig besef dat ek nie sonder hom kan lewe nie, hy is my rots en my kinders se alles. Die Here het hom vir ons gespaar en ons moet hom mooi oppas.

Netjies lyk

As vrou wil ek altyd netjies lyk. Ek móét nie. Ek wíl. Dis ek! Baie mense het al lelike goed van my gesê omdat ek optof werk toe. Dit pla my glad nie, ek gaan nie maak of ek iemand is wat ek nie is nie. Hierdie vrou hou van aantrek, so raak gewoond daaraan. Ek sal nooit glo ek is beter as ander nie, want ek is nie, niks aan my is beter nie. Ek is net ek.

My twee kinders is heel teenoorgesteld van mekaar. Ruan geniet mense en sport en stout wees. Riaan is nie ‘n mense-mens nie, hy verkies alleen wees en stilte en stout wees. Maar hierdie twee kinders is my trots en ek is bitter baie lief vir hulle. Ek probeer hulle met als ondersteun en vra daagliks hoe was hulle dag? Ek glo ons het ‘n oop verhouding en kan oor als gesels.

My woorde aan vroue daar buite is: die lewe is swaar en dinge gaan nie altyd goed nie, maar net jy kan dit verander. As jy vandag bietjie depro voel gaan sit voor die spieël en noem vir jouself al die mooi goed op in jou lewe. Glo my, soms kyk ons baie dinge verby tog is daar soveel mooi ook.

Talente

My talente… Ek kon nog nie regtig agterkom wat dit is nie. Ek was goed op skool met sport en ja ek doen pageants as ‘n stokperdjie. Nou net daai woord pageant laat party mense rooi sien. En dan kom daai lang naels uit!

Daar is al vir my gesê: “Hoekom doen jy dit? Dink jy, jy is mooi?”; “Als gaan net oor geld.”; “Jy lyk nie soos ‘n model nie.” Ens.

Om pageants te doen is nie ‘n maklike pad nie. Mense raak lelik, veral vrouens en party mans ook. Ja, pageants kos geld, maar dis tog ook ‘n besigheid! Ek doen nie pageants omdat ek wil wen of dink ek is mooi of lyk soos ‘n model nie. Nee, ek is ‘n doodgewone ma. Ek doen pageants, want dis lekker vir my om daai mooi rok aan te trek en my hare en naels te doen en weer soos ‘n prinses te voel. Op die verhoog voel ek nie soos ‘n ma nie, ek voel soos ‘n prinses net vir daai dag. Ek geniet my liefdadigheidsprojekte baie, dit laat my voel ek is belangrik vir ander ook. Ons ma’s hou mos van liefde gee.

Maar om net op daai verhoog te kom is so baie harde werk. Jy moet verskillende goed inhandig op sperdatums en jy kry uitdagings en jy moet liefdadigheidsfondsinsamelinge doen en ‘n portfolio opbou. Als wat jy doen tel dan vir jou punte. So als gaan nie net oor jy klim op ‘n verhoog met ‘n mooi rok en dan wen jy nie. Jou harde werk wat jy ingesit het laat jou wegloop met ‘n titel. En dan as jy wegloop met ‘n titel dan moet jy verder gaan hard werk aan jou liefdadigheid en nuwe projekte.

En kom ek sê vandag vir julle dis moeilik om fondse in te samel as jy ‘n ma is. Die mense lag vir jou. Ek het soveel moeite gedoen met my voorleggings, maar mense kyk nie eers daarna nie. Is net “ek sal jou laat weet”. En wat so hartseer is, is jy as ma met haar familie gaan ondersteun daagliks die besighede, restaurante ens. Maar omdat ek ‘n ma is wie gaan my ernstig opneem? Maar as ek nou rugby gespeel het, ja, dan was ek al oorsee! Hier sit ek vandag met ‘n internasionale titel- Mrs Lady of Brillancy 2020 en met ‘n nationale titel Ms Africa Elite 2020 – 1ste Prinses. Wie sou nou kan sê ‘n dood gewone ma, ‘n admin dame, het so iets agter haar naam? Ja, jy rol dalk nou jou oë vir my maar kom ek sê jou dis awesome!!! Met hierdie internasionale titel kan ek oorsee gaan, maar net die idee om vir fondse te gaan vra laat my moed sak. My begeerte van kind af is om op so ‘n verhoog te gaan staan en te gaan deelneem en my land te verteenwoordig. Dis dalk nie vir jou nie. Maar dis my droom en my begeerte!

Ek loof en prys die Here elke dag omdat hy so mooi na my en my gesin kyk. Ons is al deur baie dinge, veral laas jaar toe my man twee hartaanvalle gehad het. Ek het gestaan en kyk hoe my man doodgaan en weer terugkom. Dit kan ek nie vir niemand beskryf nie. Die Here het ons so baie gehelp deur ‘n baie moeilike tyd.

Ek is lief vir my man, kinders en die lewe. Ek kies om ten volle te lewe!

Elke dag bevestig ek vir myself in die spieël die volgende:

“Ek vlieg hoog! Met die Here se genade rondom my, hou ek my oë op die wenpaal voormy.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Follow by Email
Instagram
%d bloggers like this: