Moeilike ervarings!

Mens kry mooi ervarings en moeilike ervarings in die lewe. Maar tog bly daai moeilike ervarings by jou spook!

2019… Wat kan ek sê? Dit was seker een van my moeilikste jare nog. In April het my oudste seun Griekwaproewe gespeel en sy oupa en ouma het spesiaal van Bloemfontein af gery om te kom kyk. Sy oupa was ‘n groot Griekwa-aanhanger. Ruan moes toe die Saterdag na dit weer gaan uitspeel vir die span en daai oggend 6 uur bel my ma my en sê my pa is oorlede aan ‘n hartaanval. Dit het so onwaar gevoel en 09:00 moet Ruan by rugbyveld wees vir sy laaste proewe vir span.

Ek en my man het besluit om hom eers niks te sê tot na die proewe nie. Ruan het span gemaak en sy oupa kon nie eers sien toe hy daai rugbytrui oor sy kop trek nie.

Junie! Bel my man my van die werk af so 06:00 die oggend hy is op pad huistoe dit voel of hy ‘n hartaanval kry. Bel hospitaal, kom daar aan toe het hy ‘n ligte hartaanval gehad. My man word nooit siek nie so dis nie lekker om hom in n hospitaal so te sien nie.

Julie het ons vriende gehad die aand wat by ons kom braai het. Lekker gekuier en gaan slaap. Drieuur daai oggend maak hy my wakker – hier is groot fout. Hy wil natuurlik nie hospitaal toe gaan nie, maar ek het hom net gesê jy klim nou! Ons het hom skaars ingestoot by ongevalle toe is hulle dadelik met hom ICU toe. Net daar gekom toe kry hy ‘n groot hartaanval. Dat ek daar staan ek kyk en hoor hoe hulle hom skok en daar is net niks! Na ‘n paar skokke toe is hy weer met ons. Kyk, ons sien dit op tv gebeur maar nooit het ek gedink ek sal dit moet aanskou eendag nie.

2018… Dis ‘n doodgewone dag by werk en ek voel so bietjie duiselig en naar – wat normaal was vir my. Die dokters het vir my gesê ek het lae bloedsuiker en lae bloeddruk so dis als normaal vir my. Ek gaan badkamer toe en toe ek wakker word lê ek in toilet op grond uit soos ‘n kers. Ek het dadelik kantoor toe gegaan en my baas gebel en gesê hulle moet my help. Kollegas het my hospitaal toe gevat. Daar is ek in ICU geplaas, want hulle het breinvliesontstekking vermoed.

Maar min het ons geweet… Na my scans het die dr. die nuus gebreek. Ek het ‘n tumor so groot soos ‘n tennisbal tussen my hart en longe. En al hoe hulle dit kan verwyder is deur soos met ‘n opehart-operasie my borsbeen oop te sny. SKOK! Dis al wat deur my liggaam gegaan het. En toe moet ek hoor hulle sal dan nog moet toets vir kanker ook!

2006… Ons oudste seun Ruan was drie jaar oud, hy het aangehou hoes, geen hoesstroop wou help toe vat ons hom dr toe. Dr het geluister en ons so kyk gegee, ‘n kyk wat jy nooit sal vergeet nie! “Daar is fout met jou kind se hart hy klop so erg dat mens nie die longe kan hoor nie.”

Die dr. het vir ons ‘n afspraak gemaak by dr. Berlyn en daar het ons gehoor dat ons driejarige seun ‘n hartoperasie so gou moontlik moet kry. Kyk, dis soos hulle vir jou sê: ‘n mat word onder jou uitgetrek! Die operasie sou binne ‘n maand wees en ons het nie medies nie. Daniëlskuil-gemeenskap en die NG-kerk, ds.Hannes Knoetze, het fondsinsamelings gehou vir Ruan. Soveel mense het ons gehelp deur ‘n vreeslike tyd.

Met die operasie was dit die eerste keer wat ek my man gesien huil het soos ‘n baba! Toe hulle Ruan by teater oor daai rooi streep stoot het ek uitmekaar geval. Kobus het saam hom ingegaan. Hy moes hom vashou dat hulle die gasmasker op sy gesig sit. Dit was bitter swaar vir Kobus om dit aan sy kind te doen en te weet hy gaan in ‘n ses ure lange operasie lê.

Daai ses ure se wag was vreeslik, als wat deur jou kop gaan. Al ons familie was darm daar vir ondersteuning, maar ek moet vir julle sê dis asof jy glad nie registreur nie. Jy is daar en jy sien almal, maar niks!

Wat ek glo ons geleer het uit al hierdie moeilike ervarings is dat jou lewe oornag kan verander. Oornag kan jy jou pa, man en kind verloor! Die Here was saam ons deur al hierdie moeilike tye, maar hy het vir ons mooi laat verstaan dat jy moet elke dag voluit lewe. Jou familie en huisgesin kom altyd eerste. Vergeet van werk en jou vriende, dit het ek met my pa se begrafnis gesien. Hy het baie so called vriende gehad, maar by sy graf was vier vriende en sy familie. Jy kan nie jou gesin afskeep vir jou werk nie want jou werk kan ook oornag weggevat word wie bly dan oor?

Ek het nog baie vrese wat elke dag by my spook en my nie toelaat om voluit te lewe nie. Ek is bang my tumor kom terug. In die aand as my man opstaan om bv. net toilet toe te gaan skrik ek wakker uit vrees is hy ok. Ek wil nie my man verloor nie ook nie my kinders nie. Is Ruan se hart ok? Ek kan nie sien wat binne hom aangaan nie. En dan my jongste seun Riaan hoe gaan dit met sy hart, hoe gaan ek weet as iets fout is? Sy pa,sy ma en boetie se borskaste is oopgesny. Die vrees gaan nie weg nie!

Al wat ek kan doen is bid dat die Here sy hand oor my man wat ‘n baie belangrike rol in my en my kinders se lewe speel te hou. En dat die Here sy hand oor my twee kinders sal hou. Ek weet hulle is vir ons geleen maar hulle is my alles.

Volgende vraag is watter kwaliteite in ‘n mens is vir jou aantreklik ?

  1. Geloof
  2. Plaas familie altyd eerste
  3. Sterk waardes en verantwoordelikheid
  4. Behandel mense met respek maak nie saak wie dit is nie
  5. Herken as hy/sy n fout gemaak het
  6. Moet van sport en buite lewe hou

Nou ja, daar het ek julle aan my man voorgestel!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Follow by Email
Instagram
%d bloggers like this:
Enable Notifications    Ok No thanks