Kunstenaar in murg en been

Ek het baie “regte beroepe” gehad in my lewe, maar ek was nog altyd ’n kunstenaar in murg en been.” Dit is die woorde van Marelise Markgraaff (29), gebore Kimberliet, kunstenaar, mamma en vrou.

Marelise vertel haar loopbaan het baie op- en afdraande gehad nadat sy vir baie jare gewone werke gedoen het. “Dit was eers toe ek en my man, Andries, vier jaar gelede George toe getrek het wat ek besef het ek kan my kuns in ’n besigheid omskep. Een van my beroepe as mediese verteenwoordiger het my baie fleksietyd gegun en ek het besluit om een keer ’n week by ’n groep vroue aan te sluit wat uit die motorhuis uit pottebakkery gedoen het. Ek was mal oor die kunsvorm!

Ek het enigiets van klein bakkies tot yskasmagnete gemaak. Soms het ek dit as geskenkies weggegee en soms verkoop.”

Na twee jaar in George het Marelise en Andries besluit om terug Kimberley toe te trek. Sy het toe nie dadelik weer vir werk gesoek nie, maar eerder gedoen wat sy kon met wat sy gehad het.

Studio is gebore

“Ubuso Studio is toe gebore. Eers het ek illustrasies van mense gemaak en verkoop en kort daarna besluit om ’n kiln te koop en te begin porseleinprodukte maak. Vandag het ek my eie aanlynwinkel en neem deel aan een van die grootste kreatiewe markte in SA genaamd Kamers/Makers.

Ek het nog ’n ver pad om te stap na sukses, maar ek is ongelooflik trots op my besigheid en opgewonde oor die toekoms.”

Kinders verander jou siening oor liefde

Marelise en Andries is al vir vyf jaar getroud en die paartjie is geseën met ’n pragtige agt maande oue babadogtertjie. “Sy is ons hart se punt. Om ’n mamma te word, bring ’n heel ander dimensie aan jou lewe en aan jou siening oor liefde. Ek dink vir die eerste keer begryp ek God se liefde.”

Harde lesse geleer

Soos die lewe ’n draai met almal vat, het Marelise ook harde lesse in die lewe geleer.

“Eerstens het ek geleer deur nie jou hart en roeping te volg nie, ’n tronk vir jou hart kan raak. Jy gaan ’n muur bereik en daarteen baklei, maar nooit werklik deurbreek nie en slegs jou eie groei belemmer.

“Tweedens het ek geleer slegte dinge gebeur dikwels in jou lewe om jou pad skoon te vee. Na slegte dinge gebeur, verskuif mense se vriendekringe. Wanneer dit gebeur, wees dankbaar, want jou visie en pad raak gewoonlik meer sigbaar.

Mens kan die vriendelikste en opregste maniere hê en nog steeds gaan nie almal van jou hou of ondersteun nie.”

Netheid en vrese

Marelise bieg sy het ’n manie oor netheid en kan nooit ten volle rus en afskakel as die skottelgoed en die vloer nie gewas is nie. Soos enige mens het sy egter ook vrese. “Ek is baie bang vir misluk of my kop neerlê eendag sonder dat ek een of ander positiewe impak kon maak in die wêreld, hetsy dit nou my eie wêreldjie en onmiddellike omgewing is of op ’n groter skaal.  Ek dagdroom soms oor hoe die Vatikaan-museum een van my porseleinskeppings tot hul versameling toevoeg.” – Tania Coetzee

Lees die volledige tydskrif hier:

Follow by Email
Instagram
%d bloggers like this:
Enable Notifications    Ok No thanks