Foto: Canva

Getroud met ‘n narcissus

“Op die ou end is ek getroud met ‘n narcissus wat my nog meer kom vernietig het.”

Ek sien myself as ‘n baie vriendelike persoon. Ek glo regtig dat ek ‘n diep-omgee-mens is. Ek is sensitief vir ander se gevoelens, maar kry self maklik seer. Ek is nie onaantreklik nie, maar is na die geboorte van my kinders ongemaklik oorgewig. Vandat my gewig net so gewigtig is soos my persoonlikheid ervaar ek dat mense oor my kyk. Ek neem my rol as ma baie ernstig op maar voel of ‘ek’ verdwyn het. Mense ontnugter my gereeld. Ek is dikwels geskok in hoe hoogmoedig mense is en hoe wreedheid en valsheid toeneem.

Op watter maniere speel dit wat jy van jouself glo, uit in jou lewe? Byvoorbeeld as jy glo mense stel jou altyd teleur – sien jy dit in jou lewe?

Die ontnugtering maak dat ek twyfel om uit te reik na mense. Ek is meer versigtig om my hart met mense te deel en nie meer so spontaan soos altyd. My vriendelike en sensitiewe aard het ook nog net die wolwe onder die manlike geslag na my toe aangetrek. Op die ou end is ek getroud met ‘n narcissus wat my nog meer kom vernietig het. Omdat ek altyd gesteld is op ander mense se gevoelens dink baie mense dikwels dat hul oor my kan loop en misbruik. Op die ou end is ek eensaam…al dink mense ek is ‘n ekstrovert.

Watter goed sien jy in jou lewe raak wat gebeur soos wat jy oor jouself glo?

Miskien het ek nog nooit gedink dat ek ‘n goeie man verdien nie. Miskien is dit hoekom ek die ‘goeie ouens’ weggegooi het. Tydens my getroude lewe was ek nog nooit goed genoeg vir my man nie. Ongeliefd en verstoot. Die feit dat hy my en die kinders nooit vergesel na geleenthede toe nie maak dat ek nog minder raakgesien voel. Daarom glo ek vandag dat ek dalk net ‘n byspeler is in Vader se Groter plan. As mede-gelowiges en vriende om my, en selfs my man my nie raaksien nie, hoe sal Hy?

Is daar dinge in jou lewe wat dié “beliefs” wat jy oor jouself het, “confirm”?

Elke keer wat mense onsensitiewe dinge kwytraak bevestig dit maar die dinge wat ek van myself glo. As mense jou nie na waarde behandel nie begin mens glo dat jy ‘nie op standaard’ is nie.

As jy jou sielstorie, dit wat jy oor jouself glo, kon verander, hoe sal jou storie lees?

Hoe kan mens iets oor jouself glo as jy niks het om dit teen te meet nie? Wat is waarheid? Wat is goedheid? Na wat sal ek my storie wil verander as mens reeds die beste mens probeer wees wat jy kan?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Follow by Email
Instagram
%d bloggers like this: